Furvlenn hwilans

Jeremia 48

Die Here praat oor Moab

1Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, praat oor die land Moab. Hy sê:

“Dit gaan sleg met die mense van Nebo,

want die vyande het die stad *verwoes.

Die mense van die stad Kirjatajim

weet nie wat om te doen nie,

vyande het die stad oorwin en alles gevat.

Die stad het sterk mure,

maar die mense van die stad

weet nie wat om te doen nie,

hulle is baie bang.

2Die mense van Moab was trots op die stad,

maar die vyande het dit verwoes.

Die vyande het in die stad Gesbon gekom.

Hulle wil die stad verwoes,

hulle wil hê dat niemand later sal weet

van die stad nie.

Mense van die stad Madmen, die vyande

sal julle ook doodmaak,

hulle sal julle jaag met hulle swaarde.

3Die mense van die stad Goronajim skree

en vra dat iemand hulle moet help,

die vyande verwoes die stad

en hulle breek die mure af.

4Die land Moab is stukkend,

die mense in die kleinste dorpies skree

en vra dat iemand hulle moet help,

5Ja, hulle loop huil-huil op na die stad Lugit,

ja, hulle loop af na die stad Goronajim

en hulle skree

en hulle vra dat iemand hulle moet help,

want die vyande het hulle dorpies verwoes.

6Mense van Moab, julle moet vlug,

julle moet julle lewens red,

julle moet word soos *wildedonkies

in die woestyn.

7Want julle het gedink die goed

wat julle self gemaak het

en alles wat julle het, kan julle help.

Daarom sal die vyande julle wegvat,

en hulle sal ook julle *god *Kemos wegvat,

en sy *priesters en sy *amptenare saam met hom.

8By elke stad sal mense kom

wat die stad verwoes,

hulle sal al die stede verwoes.

Die vyande sal die valleie

en die Hoëveld van Moab verwoes.”

Die Here het dit gesê.

9Die mense van Moab moet vlug,

ja, hulle moet gaan, dit is seker.

Die stede van Moab sal leeg word,

niemand sal daar woon nie.

10Mense wat die werk van die Here moet doen,

julle moet weet dat die Here julle sal straf

as julle die werk nie goed doen nie.

Hy sal julle straf as julle nie die mense doodmaak

wat julle moet doodmaak nie.

11Dit het altyd goed gegaan

met die mense van Moab,

niemand het hulle gepla nie,

hulle was so veilig

soos die fyn stof wat afsak

en onder in ’n *kruik oorbly

wanneer iemand die wyn in ’n ander kruik gooi.

Vyande het nie die mense van Moab

gevang en weggevat nie.

Die mense van Moab het nie verander nie,

hulle is soos die wyn wat nie verander het nie,

dit smaak en ruik nog dieselfde.

12Die Here sê:

“Daarom, die tyd kom nou

dat Ek mense na Moab sal stuur

om sy mense weg te vat

en sy stede te verwoes,

soos wanneer mense wyn uitgooi

en die kruike leegmaak en stukkend slaan.

13Die god Kemos sal nie vir Moab

kan help nie.

Die mense van *Israel het ook gedink

die god Bet-El sal vir hulle kan help,

maar hy kon nie.

14Mense van Moab, julle sê julle is soldate

en julle is gereed om te veg,

15maar die vyande het gekom

en hulle sal Moab en sy stede verwoes,

hulle sal Moab se beste jong soldate doodmaak.”

Dit sê die Here, Hy is die Koning wat oor alles regeer.

16“Die tyd kom vinnig wanneer

dit sleg sal gaan met Moab,

dit sal gou gebeur.

17Julle almal rondom Moab,

julle wat die land ken,

julle moet jammer wees vir hom

en julle moet julle koppe skud,

julle moet sê: ‘Moab het

oor ander volke regeer,

baie mense het hom gedien,

maar Moab se *septer het gebreek.’

18Mense van die stad Dibon,

julle moet afklim van julle mooi stoele,

julle moet op die grond in die stof gaan sit,

want die mense het gekom

wat julle stad sal verwoes,

hulle het julle sterk mure afgebreek.

19Mense van die stad Aroër,

julle moet langs die pad gaan staan,

julle moet kyk, en wanneer daar mense kom

wat vry weggekom het en wat vlug,

dan moet julle vir hulle vra:

‘Wat het gebeur?’ ”

20Moab het die oorlog verloor,

ja, hulle het bang geword.

Julle moet huil en vra dat iemand hulle moet help,

julle moet vir die mense by die Arnon-rivier vertel

dat die vyande vir Moab verwoes het.

21Die Here straf die mense op die Hoëveld, die mense van Golon, Jahesa, Mefaät, 22Dibon, Nebo, Bet-Diblatajim, 23Kirjatajim, Bet-Gamul, Bet-Meon, 24Kerijot en Bosra, al die stede in die land Moab, ver en naby.

25Die Here sê:

“Moab was sterk maar nou is hy swak,

hy is soos ’n man met ’n af arm.”

26Julle moet Moab dronk maak totdat hy opgooi,

want hy het gedink hy is belangriker as die Here.

Die ander volke moet vir hom lag.

27Moab, dit sal met jou gebeur

omdat jy vir Israel gelag het

soos ’n mens lag vir ’n dief

wanneer jy hom vang.

Ja, jy het oor Israel gepraat,

maar nou moet jy jammer wees vir jouself

en jy moet jou kop skud vir jouself.

28Mense van Moab,

julle moet weggaan uit die stede,

julle moet tussen die rotse gaan woon,

julle moet word soos duiwe wat hulle neste maak

in die kante van diep gate.

29Ons het gehoor die Moabiete

is hoogmoedig en trots,

hulle dink hulle is belangrik

en wonderlik en beter as ander volke.

30Die Here sê:

“Ek weet self hoe hoogmoedig die Moabiete is,

maar hulle het niks waaroor hulle kan spog nie,

hulle moet dit nie doen nie.

31Daarom sal Ek huil oor die Moabiete,

Ek sal skree oor al die Moabiete

en Ek sal vra dat iemand hulle moet help,

Ek sal sug oor die mense van die stad Kir-Geres.

32*Wingerde van die stad Sibma, Ek sal huil oor julle,

meer as wat Ek sal huil oor die stad Jaser.

Die *ranke van die wingerde gaan

tot by die see, tot by Jaser.

Die vyande het gekom

om die vrugte en die druiwe te verwoes.

33Niemand sing en juig nog

in die tuinland, in Moab nie.

Ek het die wyn laat wegraak

uit die *parskuipe,

niemand trap nog die druiwe en sing nie.”

34Die mense van Gesbon skree

en vra iemand moet hulle help,

die mense kan dit hoor

in die stede Elale en Jahas,

in Soar en Goronajim en Eglat-Selisija,

want die water by Nimrim is ook op.

35Die Here sê:

“Ek sal die Moabiete laat sterf

wat na die *offer-plekke gaan

en *offers bring vir hulle *gode.

36Dit is hoekom ek kla oor die Moabiete,

oor die mense van Kir-Geres.

Ek kla soos mense wat hartseer is en *fluite blaas,

want al hulle goed wat hulle gebêre het, is weg.

37Ja, al die mense

het hulle *koppe kaal geskeer

en hulle *baarde afgeskeer,

hulle het hulle hande stukkend gesny

en *rouklere aangetrek,

38die mense *rou op al die dakke

en op die *oop stukke grond,

want Ek het Moab gebreek soos ’n kleipot

wat niemand wil hê nie.”

Dit sê die Here.

39Die Moabiete is bang, hulle huil en vlug,

want hulle het verloor in die oorlog.

Al die volke rondom die Moabiete lag

oor wat met hulle gebeur het,

en mense skrik wanneer hulle dit sien.

40Ja, die Here sê:

“Kyk, die vyande sal afkom soos aasvoëls

en hulle sal oor Moab vlieg.

41Hulle sal die stede oorwin,

ook die stede wat sterk mure het.

“Die soldate van Moab sal daardie dag so bang word soos ’n vrou wanneer haar baba gebore moet word.

42“Die vyande sal die Moabiete doodmaak,

hulle sal nie meer ’n volk wees nie,

want hulle het gedink hulle is belangriker

as die Here.”

43Die Here sê:

“Mense van Moab, julle sal skrik en in *vang-gate val,

die vyande sal julle in *vangnette vang.

44Iemand wat skrik en vlug,

sal in ’n vang-gat val,

iemand wat uit ’n vang-gat klim,

sal in ’n vangnet vassit,

want Ek sal die tyd laat kom

wanneer Ek vir Moab sal straf.”

Dit sê die Here.

45Die mense wat vlug, staan in

die skaduwee van die stad Gesbon,

hulle het nie meer krag nie,

want ’n vuur het uit Gesbon en Sihon

gekom en dit het die koppe verbrand

van die Moabiete wat so gespog het.

46Moabiete, dit sal sleg gaan met julle,

die vyande het die volk van Kemos oorwin,

want hulle seuns en hulle dogters

is *gevangenes,

die vyande vat hulle weg.

47Maar die Here sê: “Ek sal dit later weer goed laat gaan met die Moabiete.”

Dit is wat die Here gesê het oor Moab.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index